South Africa
'Sake-terroriste' nodig vir oorleef, meen kenner

DIE VOLKSBLAD - SAKE24: 26 April 2007

Vida Booysen, Bloemfontein

Eet jouself voordat iemand anders jou opvreet – dis die raad wat die toekomskundige en uitvoerende hoof van FutureWorld Suid-Afrika, mnr. Neil Jacobsohn, vir sakelui het.

"Moenie wag dat jou mededingers jou wys hoe jy klante moet behandel nie. Daag jouself uit en verander koers terwyl jy dit nog kan bekostig," verduidelik hy. Jacobsohn het op 'n seminaar van die departement landbou-ekonomie van die Universiteit van die Vrystaat (UV) met boere gepraat oor die uitdagings wat die sakewêreld van die toekoms inhou.

Mededinging alleen gaan nie meer goed genoeg wees nie, waarsku hy. "Vind nuwe terreine waarop jy nog nie mededingers het nie. Jou ondergang sal kom van plekke waar jy dit die minste verwag, kyk dus verby die bekende mededingers." Hy noem die voorbeeld van die mp3-speler en iPod wat baie vinnig 'n toestel soos Sony se Walkman van die mark af gevee het en waarsku dat die snelle pas van tegnologiese verandering veroorsaak dat die mark telkens na 'n nuwe, onbekende plek sal spring.

Vandag se uitvoerende hoofde besef nie watter deurslaggewende rol jong mense in 'n maatskappy kan speel nie. Jacobsohn noem hulle die ‘sake-terroriste' en sê elke maatskappy behoort sulkes te hê. "Nuwe waardes en nuwe standpunte kom met elke nuwe geslag. Jou toekomstige klante gaan anders dink as jy. Skaar genoeg slim jong mense om jou sodat hulle die manier waarop jy sake doen, voortdurend uitdaag en verander."

Ook die struktuur van 'n organisasie kan in die toekoms heel anders lyk wanneer leierskap gedeel word en kennis en ervaring nie meer so baie soos die regte vaardighede gaan beteken nie.

Ná die tegnologie-revolusie word die volgende groot omwenteling deur biotegnologie veroorsaak, voorspel hy. Beter kos, nuwe medisyne en gemanipuleerde grondstowwe verander die wêreld. "Die eerste mense wat tot 150 jaar oud gaan word, is reeds gebore. Ons kinders gaan baie langer as ons leef. Dink aan die uitwerking wat dit op beskikbare werkgeleenthede en pensioenfondse sal hê."

'n Stad soos Singapoer het reeds verklaar dat hy die wêreldleier in biotegnologie wil word en Suid-Afrika sal moet opskud om in die wedloop te bly, waarsku hy.

As opkomende sakereuse soos China en Indië die wêreldekonomie begin oorheers, sal die reëls van die spel verander.

"Wat sal gebeur as húlle perspektief oor kopiereg die norm word," vra hy.

Vir boere het Jacobsohn die raad gehad om waarde tot hul produkte toe te voeg en uit die kommoditeitsmark te probeer tree.

"Ons leef in 'n wêreld waar nywerhede en sake-ondernemings beter verbind is as ooit. Dit beteken die bou van verhoudings, soos dié tussen verskaffer en verbruiker, word ál belangriker.

"Die toekoms is nie 'n kans nie. Dis 'n keuse."

More FutureWorld news items